
Ek het ‘n oom gehad wat op sy kop kon staan. As hy kom kuier het was ons almal begeesterd deur sy eienaardige gewoontes. Hy het nie net vir lang rukke voete in die lug gebalanseer nie, hy het ons ook oortuig dat die wêreld van herderinne, skoorsteenveërs en ander vreemde gediertes net ‘n gedagte ver is. Ek weet dit vandag nog. En ek weet dat die stories van ander karakters my soms help om my eie storie beter te verstaan; om my maters se stories beter te verstaan.
Dit is wat ons by StoryTeam doen: ons ondersoek sosiale- en lewensvaardgihede deur middel van teater en drama. Die kreatiewe, veilige omgewing van teater het die potensiaal om ‘n wêreld van moontlikhede te ontsluit! Ons toneelstukke skep geleenthede vir jongmense om beter keuses te oorweeg en om die waarde van kommunikasie raak te sien. Sê nou maar dit het vir daardie karakter gewerk, dan wonder ek of dit vir my ook sal werk…
Die superfantastiese ding van my oom was dat hy nie net die stories vir ons gelees het nie. Eetkamertafels het paleise geword, ou kartondose was gondolas op magiese riviere en ‘n ou verestowwer het nuwe betekenis gekry as ‘n silwer hings. Ek het so vereenselwig met die brawe Raponsie, strompelend deur die sitkamer-woud opsoek na haar prins, dat ek vandag steeds onthou Sukses lê net anderkant Baie Sukkel. Groot konsepte en lewenswaarhede raak lewendig wanneer ‘n mens dit aan jou eie bas voel, soos die Sjinese spreekwoord sê: Tell me and I will forget, show me and I will remember, involve me and I will understand.
Ons kan gevolglik nie anders as om ons teater-ervaring interaktief te maak nie. Leerders kan nie net na ‘n konsert kom kyk nie, hulle moet deel word van die stories, en saam met die akteurs die konflik oplos. Augusto Boal het gesê: “…through participation in the theatre process, participants can develop a critical consciousness of their collective situation and be inspired to action.” Geïnspireer tot aksie. Dit is mos nou hoe ‘n mens ‘n verskil maak! Niks het nog ooit verander of beter geraak deur passiwiteit nie. Om net te weet iets kan beter wees, maak dit nie beter nie, ‘n mens moet aktief betrokke raak.
Alle stories is nie feëverhale nie. My oom het later nie meer kom kuier nie. Nadat hy oorlede is, was daar ‘n baie werklike, skitterende leemte – sy stories was drywend in ‘n onbereikbare borrel tussen werklikheid en droom. Dit is die ding van stories: dit bly op ‘n afstand totdat jy geleer het om die waarhede daarin raak te sien en dit toe te pas. Om ‘n toneelstuk te kyk is maar een stap in die regte rigting, maar wat dan?
As opgeleide onderwysers en akteurs ontwikkel ons programme wat gebruik kan word as hulpmiddels in die opvoedkundige leerproses. StoryTeam– toneelstukke word die sleutel tot kommunikasie. Leerders kry die geleentheid om tydens sommige vertonings insae te hê in die verloop van die aksie. Na elke veroting kan almal deelneem aan ‘n relevante bespreking, waar hulle die geleentheid kry om hul eie stories, ervarings en menings te deel. Opgeleide fassiliteerders skep ‘n veilige atmosfeer waarin moontlike atwoorde en oplossings gevind kan word.
“‘n Leier is iemand is wat dinge beter maak as wat dit is.”
“Hardwerkend beteken om aan te hou werk totdat jy erens uitgekom het.”
StoryTeam is met ander woorde die platform waardeur ons teaterprogramme (met spesifieke temas en fokus) ontwikkel, om die behoeftes van ons gemeenskap te belig en aan te spreek. Om te leer is mos ‘n sensoriese ervaring vir jongmense! Die oudiovisuele en emosionele avontuur stel leerders in staat om verskeie aspekte of probleme in hul daaglikse lewe te identifiseer.
Ons het verskeie programme vir ‘n breë spektrum leerders:
Poppeteater vir Gr RR – Gr 2 leerders, teater vir Gr R – Gr4 en Gr 5 – Gr7 leerders en teater vir hoërskoolleerders.
Temas wat behandel word is bv:
- Normes en Waardes (Leierskap, Boelies, Waarheid vs Die Leuen)
- Omgewingsbewustheid (Herwinning en Rommel, Marienebewaring, Wildbewaring, Vleilandbewaring)
- Sosiale kwessies en gemeenskapsteater (Dwelmverslawing)
Dit is ons passie om stories te maak en te deel. Skole kan ons kontak vir vertonings van bestaande programme, of om nuwe programme te ontwikkel. Indien ‘n oorspronklike, pasgemaakte teks vir skooltoneel benodig word, is StoryTeam ook die plek om dit te kry!
Liewe juffrou,
As jy die effek van drama in jou klaskamer op die proef wil stel, hier is ‘n paar wenke (en onthou drama beteken aksie):
- As jy volgende keer ‘n storie lees, kry vir die hoofkarakter in die boek ‘n kenmerkende hoed. Elke keer as jy sy/haar dialoog lees, sit die hoed op! Dit is nie eers nodig om in ‘n vreemde stem te praat nie, die kostuum sit klaar die verbeeldingsratte aan die gang. As jy klaar gelees het, kan jy weer die hoed opsit, en toelaat dat die kleintjies jou vrae vra oor die storie – in karakter. Ek is seker dit kan ‘n opwindende mondeling wees! (Later kan die kinders self die karakters in die hot seat)
- Lees vir die klas ‘n koerantberig of tydskrif-artikel. Praat oor die persoon(e) waaroor dit gaan. Waar dink die leerders kom die persoon vandaan? Wat is sy lewensverhaal? Wat het die oggend voor die voorval in sy lewe gebeur? Wat gaan moontlik in die toekoms gebeur? ‘n Oefening in verlede, toekomstige en huidige tyd. Dit maak ‘n gesprek oor sosiale kwessies oop, maar dit maak ook meer akademiese oefeninge moontlik bv. opstel-ontwikkeling, karakter-ontwikkeling ens.
- Gebruik ‘n foto vanaf sosiale media, bv. ‘n celebrity Stel ‘n paar kinders op in identiese posisies – gevries. Haal die leerders een-een uit hul posisie en vra hoe hulle in dié posisie gekom het. Dit maak hulle bewus van ander mense/karakters se optrede (en die rede daarvoor) in spesifieke situasies. Dit is ook ‘n lekker op-die-voete-dink mondeling.
- Daar is min dinge so verkwikkend soos hardop uitgepsreekte klank. Soveel te meer as dit poëties gerangskik of geskommel is! Prikkel volgende keer die leerders se nuuskierigheid deur eers die strofes van die voorgeskrewe gedig uit te knip en te skommel. Laat hulle die deurmekaar reëls hardop lees – of beter nog, uitspeel! Sit dit dan weer aanmekaar, ontdek die betekenis en lees dit weer.
Ek kan ook nog op my kop staan. En ek is steeds bewus van die krag wat in aktiewe stories lê – joune, myne en elke leerer daar buite s’n. Kom ons maak ‘n kleurvolle Suid-Afrikaanse storie met ‘n superfantastiese einde; kom ons raak betrokke.
